Baie oulike artikel in vandag se By:
http://www.dieburger.com/By/Nuus/So-hoe-vind-jy-daardie-boek-20121006
Nèlleke de Jager
Die uitgewersbedryf is meer uitdagend as ooit tevore. Oral is tradisionele boekwinkels in gedrang, al hoe meer skrywers oorweeg dit om self hul boeke uit te gee en uitgewers heroorweeg gevestigde sakemodelle. Nèlleke de Jager, digitale uitgewer by NB-Uitgewers, beskou dié bedryf na aanleiding van ’n besoek aan die onlangse Book Expo America (BEA).
In die VSA bestaan reeds sowat 16% van die inkomste van die boekebedryf vir die algemene handel uit digitale produkte; hetsy as e-boeke vir die Kindle, kinderboek-apps wat praat en musiek maak, luisterboeke vir jou foon of liefdesverhale wat self deur skrywers uitgegee, deur e-handelaars versprei en deur lesers verorber word.
Amazon het in November 2007 die Kindle bekend gestel, Steve Jobs sy eerste iPad in 2010. Twee jaar, wat nog te sê van vyf, voel soos ’n leeftyd gelede in die boekebedryf.
Maar is ’n e-boek regtig ’n bóék? Wat van die reuk van papier, jou potloodmerkies in die kantlyn?
Dit val ’n mens oral in New York op dat dié debat irrelevant geword het. In die VSA is verspreiding van papierboeke duur, en minder bekende titels onverkrygbaar – nes in Suid-Afrika. Dat lesers ’n boek binne sekondes op hul e-toestel (of tablet of slimfoon) kan aflaai, het dus ’n positiewe omwenteling in die bedryf meegebring.
Statistieke in die VSA bewys dit: in 2011 is amper drie keer soveel e-boeke as in 2010 verkoop – nie minder nie as 388 miljoen eenhede. Voorraadbestuur van digitale boeke is eenvoudig nie ’n kwessie nie. Die Engelse uitgewer Bloomsbury stel byvoorbeeld binnekort ’n druknaam in Indië bekend. Hoekom nou? Want verspreiding is nie meer ’n struikelblok nie – hul boeke gaan slegs digitaal verkoop word.
In New Yorkse uitgewershuise word vurige debatte eerder gevoer oor e-ink versus tablette. Waarop lees mense regtig? Is gebruikers nie geneig om gedurig e-posboodskappe te antwoord en Angry Birds te speel in plaas van met aandag te lees op hul iPad- of Samsung-tablet nie? Hoe gaan dit boekverkope raak?
Een van die mees omstrede voorleggings tydens BEA het juis gehandel oor leestoestelle: “Uitgewers sal moet smart play,” waarsku Michael Norris van Simba Information. ’n Boek moet ekstra boeiend wees om teen rekenaarspeletjies en YouTube mee te ding. Of soos hy dit stel: “In the universe of tablets, reading is way at the bottom of preferred activities.”
Dit is dan ook een van die redes waarom eenvoudige e-inktoestelle steeds gewild is by leesverslaafdes (en natuurlik uitgewers) – die versoeking tot aandagafleiding is kleiner.
En al stem almal saam dat die Nook van Barnes & Noble ’n veel beter e-inktoestel is as die Kindle, domineer Amazon steeds die mark in die VSA. Hoofsaaklik, sou sommige sê, vanweë sy mededingende boekpryse en weens gewetenlose kontrakte. (Daar was selfs in die gange van BEA kennisgewingborde by stalletjies wat sê AMAZON-FREE ZONE.)
In Amerika dui onlangse navorsing daarop dat sowat 40% van gereelde e-boeklesers die Kindle verkies, die iPad staan op 15% en die Nook, ietwat verbasend, reeds op 20%.
Ewe interessant is dat volgens Kobo, ’n Japanse e-handelaar met sy eie e-toestel, koop lesers 50% meer boeke op ’n e-inktoestel as op ’n tablet.
In Suid-Afrika het ons nog min keuses wat leestoestelle betref. Die Kindle is plaaslik beskikbaar (maar goedkoper as jy dit aanlyn bestel), die Nook kan jy oorsee aanskaf hoewel die app nog nie beskikbaar is as jy ’n Suid-Afrikaanse kredietkaart gebruik nie. Daarenteen is Kobo se app vir tablette baie gebruikersvriendelik, die leestoestel net so toeganklik en daar is ’n goeie verskeidenheid Suid-Afrikaanse boeke beskikbaar, ook in Afrikaans.
Die plaaslike e-handelaars moet ook nie onderskat word nie. Kalahari verkoop al lank e-boeke, en sy app is ook beskikbaar op die AppStore en op GooglePlay. Leserskring het onlangs ook ’n e-boekkatalogus bekend gestel, wat op verskeie platforms gelees kan word. Statistieke dui daarop dat lesende Suid-Afrikaners toenemend van skootrekenaars na tablette en slimfone migreer.
Nog ’n tendens in die Amerikaanse e-bedryf wat relevant is vir Suid-Afrika: liefdesverhale is gewilder as ooit tevore, en hoe meer seks, hoe beter. Dis veral in dié genre dat skrywers die stof in uitgewers se oë skop. Want hoe moeilik kan dit wees om self jou boek uit te gee en deur Amazon te versprei, veral wanneer hul tantième-aanbod op die oog af soveel beter is?
Totdat ’n mens die fynskryf lees. Die beste voorbeeld van hierdie fenomeen is E.L. James se Fifty Shades of Grey. Glo dit of nie, sy het dit aanvanklik uitgegee deur The Writers’ Coffee Shop, ’n obskure digitale uitgewerytjie in Australië. James het eers later na Random House geskuif, ter wille van ’n beter papieruitgawe van die drieluik asook omrede sy reikwydte aanlyn.
Van die Grey-reeks is 9 miljoen eksemplare (papier en e-uitgawes gekombineer) binne nege weke by Random House verkoop, en na beraming tot op hede meer as 30 miljoen eenhede wêreldwyd. Die verkoopsyfers bewys dat e-boeke ook papierboeke se verkope aanblaas.
Ek vermoed dis ’n tendens wat ons toenemend sal teëkom: blitsverkopers bereik blitsiger as ooit ’n piek, wat papierhandelaars dan aanmoedig om dieselfde risiko’s te loop.
Die ander afleiding wat ons hieruit kan maak, is dat ’n hele nuwe siftingsproses aanlyn aan die plaasvind is. As uitgewers jou manuskrip afkeur, gee dit self uit en maak dalk miljoene.
Tog is daar ook derduisende skrywers wat hul eie boeke op Amazon uitgee, maar nooit weer van gehoor word nie.
Maar wat gemaak as ’n koper nié op soek is na ’n E.L. James nie, nie wéét waarna hulle in die virtuele rakruimte op soek is nie?
Wat kan Sondagmiddae se gedwaal in ’n boekwinkel vervang? En die boekhandelaar wat soos ’n profeet aanvoel watter nuwe skrywer jou vreugde sal verskaf? Jou e-handelaar is nog nie hiertoe in staat nie.
Die virtuele boekrakruimte is dan kleiner as jou TV-skerm. En om die eerste tien bladsye af te laai en deur te blaai, is net nie dieselfde nie.
Vandaar gonswoorde soos “discoverability”, oftewel vindvermoë. Die vermoë om lesers aan nuwe, onbekende boeke op ’n virtuele boekrak bekend te stel, ontwikkel tans as ’n hele nuwe bemarkingswetenskap. En baksteenboekwinkels is al verby moedeloos oor die rol wat hulle speel in lesers se soektog na e-boeke.
Gaan loer gou in jou plaaslike winkel na iets wat lekker lyk om te lees, en laai sommer tjop-tjop die (dikwels goedkoper) e-boek af terwyl jy nog aan die blaai is!
Moet ook nie die mag van Twitter en Facebook as virtuele “word of mouth”-netwerke onderskat nie. Een van my gunsteling-webwerwe is Goodreads.com – ’n baie slim onderneming wat met behulp van algoritmes en bestaande keuses voorspel van watter soort skrywers jy sal hou.
Dié webwerf maak onder meer gebruik van duisende trendsetters wat soos mini-Oprah’s uitsprake lewer oor boeke en so algaande rimpelings in ’n boek se verkope kan veroorsaak.
Die huidige sukses van Fifty Shades of Grey is byvoorbeeld al maande tevore op GoodReads se gewildheidspeilings voorspel.
E-boekwinkels se gebrek aan vindgerief het in die VSA ’n ironiese gevolg gehad. Nadat die groot kettinggroep Borders bankrot verklaar is, het kenners bespiegel baksteenboekwinkels is aan die uitsterf. Tog het verskeie nis-boekwinkeltjies die afgelope jaar oral in Noord-Amerika die lig gesien.
Die gebrek aan vindvermoë op ’n virtuele rak beteken dat lesers steeds ’n behoefte het aan die tasbare, aan rondsnuffel, en bowenal aan ingeligte boekhandelaars.
Uitgewers word dus handomkeer uitgedaag om opnuut oor hul bemarkingstrategieë te besin. En as jy gedink het goeie omslae en prikkelende verkoopskopie is nie meer van belang op ’n virtuele rakruimte nie, dink weer! ’n Uitgewery soos Source Books in Chicago toets minstens drie omslae op ’n slag met behulp van sosiale netwerke. Meer as ooit tevore is die leser koning.
In vele opsigte is die Amerikaanse bedryf Suid-Afrika sowat vyf jaar voor. Statistieke is nog moeilik bekombaar, maar verkope van e-boeke maak na raming tans sowat 1% van omset uit vir die plaaslike algemene handel. Dinge verander egter vinnig. En die les uit die Amerikaanse ervaring is dat daar geen absolute waarhede in die boekbedryf is nie.
E-boeklesers is nie minder lief vir papierboeke nie, en luisterboekaanhangers koop dikwels twee uitgawes – die papierboek én die luisterboek. Of die e-boek en die luisterboek. Niks is voorspelbaar nie.
Uiteindelik gaan dit nie oor die medium nie. Dit gaan steeds oor die boek.
Ek herinner my dikwels aan Marlene van Niekerk se woorde in Die sneeuslaper (ek parafraseer): dat lees in staat is tot troos. Die wyse waarop “lees” geskied, sal mettertyd irrelevant raak. So lank die boek goed, bekostigbaar en beskikbaar is.